Consolidated B-24 Liberator

Consolidated B-24 Liberator
Amerikaanse Consolidated B-24D Liberator oor Maxwell Field, Alabama.
Tipe Bomwerper
Vervaardiger Consolidated Aircraft
Nooiensvlug 29 Desember 1941
Status Uit diens gestel
Hoofgebruiker Amerikaanse Lugmag

Britse Lugmag

Die Consolidated B-24 Liberator is 'n Amerikaanse viermotorige swaarbomwerper wat ontwerp is deur Consolidated Aircraft van San Diego, Kalifornië. Die vliegtuig het binne die maatskappy bekendgestaan as Model 32 en sommige van die aanvanklike eenhede is geproduseer vir uitvoer vir gebruik as LB-30's, die landbomwerperkategorie.

By sy ontstaan was die B-24 'n moderne ontwerp met 'n hoogs doeltreffende skouergemonteerde Davisvlerk met 'n hoë aspekverhouding. Die vlerk het die Liberator 'n hoë kruissnelheid en lang togafstande gegee en ook die bomlading verbeter. In vergelyking met sy tydgenote was die B-24 relatief moeilik om te vlieg en het swak laesnelheidverrigting gehad; dit het ook 'n laer vliegplafon gehad en was minder robuus as die Boeing B-17 Flying Fortress. Terwyl lugbemannings geneig was om die B-17 te verkies, het weermagpersoneel die B-24 verkies en dit in groot getalle vir 'n wye verskeidenheid rolle aangeskaf.[1][2] Daar is ongeveer 18 500 eenhede van die vliegtuig vervaardig (insluitend 8 685 eenhede deur Ford) en dit is steeds die rekord vir bomwerpers, swaarbomwerpers, multi-motorige vliegtuie en Amerikaanse militêre vliegtuie.

Die B-24 is op groot skaal tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik deur elke afdeling van die Amerikaanse Magte sowel as verskeie Geallieerde- lugmagte en vlote. Dit het in elke moontlike gebied van operasies diens gedoen. Saam met die B-17 het hulle die ruggraat gevorm van die Amerikaanse strategiese bombarderingoffensief in die Wes-Europese teater. Ook as gevolg van sy lang togafstand was die bomwerper uiters bruikbaar in die oorlog in die Stille Oseaan, insluitend die bombardering van Japan. Lang-togafstandteenduikboot Liberators het 'n groot rol gespeel om die gaping oor die middel van die Atlantiese Oseaan te dek tydens die Slag van die Atlantiese Oseaan. Die Liberator vragvliegtuig het 'n langer togafstand en groter kapasiteit as sy eweknie die Douglas C-47 Skytrain gehad.

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die tegnologiese deurbrake van die Boeing B-29 Superfortress en meer moderne bomwerpers tot gevolg gehad dat die bomwerpers wat van die begin van die oorlog gebruik was verouderd was. Die B-24 is gou uit diens onttrek met die uitsondering van die Consolidated PB4Y-2 Privateer maritieme vliegtuig wat deur die Amerikaanse Vloot gebruik is tydens die Korea-oorlog.

  1. Birdsall (1968). Famous Aircraft: The B-24 Liberator.
  2. "The Boeing B-17 Flying Fortress vs. the Consolidated B-24 Liberator". warfarehistorynetwork.com. 30 Junie 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search